ITEC NEWS
Hanlie Retief gesels met Adriaan Strauss
13:58 (GMT+2), Wed , 15 June 2016
Itec News

http://www.netwerk24.com/Stemme/Hanlie-Retief/hanlie-retief-gesels-met-adriaan-strauss-20160612

In die klipkoppiewêreld van ­Philippolis in die Vrystaat het Adriaan Strauss ’n rugbylaaitie geword, en die wydse eerlikheid van dié wêreld het op sy gesig kom lê.

Op die lappie gras wat sy pa spesiaal vir sy witkopseun en sy rugbybal voor Dwarsrivier se opstal geplant het, het als vir Jan Adriaan Strauss begin.

“En daar’s ’n boom,” sê hy en jy sien sommer hoe kom die lekkerkry in hom, “met twee takke wat ’n groot mik maak en ’n dwarstak tussenin. Dit was my rugbypale. My pa het my van kleins af geleer skop, regdeur daai takpale. Ja, ek was nog nie eens op skool nie,” ­grinnik Atters.

 
EK AANVAAR DIT WAT NA MY KANT TOE KOM. EK SAL ALTYD HARDER WERK OM DAAR UIT TE KOM. MAAR JOU TYD IS JOU TYD. EK MOES ’N RUKKIE VASBYT OM DIE KANS TE KRY.

Gistermiddag, toe hy heel voor uitdraf en die Nuweland-skare dreun, het dié nommer twee sy grootste droom gehaak.

Ná soveel jare van tweede wees, op die bank, agter John Smit, agter sy Grey Kollege-senior, Bismarck du Plessis.

Adriaan het stellig gistermiddag sy “gelukkige oranje kledingstuk” gedra op ’n plek waar die son nie skyn nie.

Sy Vrystaatse vriende, “verby trots” op hom, het dit laas jaar met die Wêreldbekertoernooi vir hom gegee.

“Adriaan is een van die skaamste, ­nederigste ouens. Hy hou nie van ’n hoeha om hom nie,” vertel Valentine Rantsoareng, een van sy vennote by Itec in Bloemfontein. “Dis ons geheime joke. Ons het vir hom ’n paar ordent­like onderbroeke gekoop en daarop laat druk: You are our Hero.”

In die pakkie was ook ’n dagstukkie-boekie vir inspirasie. Toe hulle dit af­lewer, het Adriaan uitgebars van die 
lag en gesê: “Julle lig my as ek laag is!”

Hy’t dié gelukbringer gedra toe hy sy drie teen Japan gedruk het in daardie wedstryd wat almal wil onthou om te vergeet.

“Ek het voor die wedstryd vir Fourie (du Preez) gesê ek is rêrig honger om die bal in my hande te kry en hy moet asseblief vir my pass. Dis presies hoe dit gebeur het. Vir ’n haker om ’n paar meter met die bal te hardloop en ’n drie te druk, gebeur nie (grinnik) noodwendig so baie nie . . . So já, om ’n bietjie bene te strek was lekker.”

Nie ’n skouponie nie, maar ’n volbloedploegperd. So’t sportskrywer Bokkie Gerber Adriaan al beskryf.

Nie net op die veld vir die shine nie, maar om al die donkiewerk te doen en dan nog drieë te druk ook.

“Ja, maar my meeste drieë is nie individuele drieë nie, maar ’n absolute spanpoging en ek moet gewoonlik vir die ouens langs my net dankie sê vir die kans wat hulle my gee.”

Vintage Vanilla Gorilla.

En die twee boomstompbene hier op die Cullinan-hotel se fênsie bank – gaan hulle hou tot 2019?

“Ek lewe nie meer vier jaar in die toekoms nie, ek vat dit nou soos dit kom. Week vir week. ’n Mens moet ook realisties wees en besef wanneer dit jou tyd is.”

Twee jaar gelede, toe sy spelpeil vir hom soos ’n insakskrum begin voel het, was Adriaan bekommerd of hy die Boktrui nog waardig is. Hy was seker die meeste van almal verras toe Hey­neke Meyer hom wel kies. En toe maak hy dubbel en dwars seker hy bring sy kant. “Dis hoe Adriaan is,” vertel ’n vriend.

Mense maak nou vreeslik lawaai oor vernuwing in Springbokrugby, maar die kernwaardes bly Springbokwaardes en dit sal altyd dieselfde bly.

“Daar’s nie veel verskil tussen topspanne in die wêreld nie. Regtig. So dis nie vir my ’n nuwe era nie, maar daar’s beslis ver­nuwing onder coach Allister. Nuwe ­spelers bring altyd ’n vars dinamika en ander persoonlikhede in die groep. Daar was baie energie en goeie rugby laas week op Stellenbosch in die kamp.”

Goeie rugby. Smoorrugby, stoeirugby, stampkarrugby of totale rugby . . . wat’s die kaptein se keuse?

“ ’n Kombinasie van smoorrugby en totale rugby, dáái twee,” sê hy sonder aarseling. “Ek dink dis belangrik om die regte besluit op die regte tyd te maak, daar op die veld. ’n Mens kan nie net van orals af probeer hardloop nie, jy moet in verskillende situasies verskillende opsies kan uitoefen.

“Druk is belangrik in enige wedstryd, maar verál in toetswedstryde. Dis belangrik om smoorrugby te kan speel, en dis ook lekker om totale rugby te speel. En dis baie doeltreffend, mits jy dit reg doen.”

Dit is vir hom spesiaal om die “ou” klomp weer uit oorsee terug te hê, sy ou medestrydrosse Francois Louw en Duane Vermeulen.

En nee, hy’t nié vir Duane gesê: “Sorrie ou maat, jy wóú mos oorsee gaan speel, nou ek’t die kapteinjop,” nie?

“Ag, glád nie,” lag hy, “ons kom darem al van Cheetah-dae saam, dis net góéd om die ou weer te sien. Duane . . . speel hard en hy sit sy hart in alles, en dis nogal inspirerend. En dis hoekom hy ’n leier is, of hy die tag as kaptein het of nie. Hy sal ’n leier wees in enige span waarin hy speel.” Jy kan hoor hoe sorgsaam hy die regte woorde vir sy pêl kies.

“Ook ouens soos Victor Matfield en Jean de Villiers het baie vir my beteken. Victor het my soveel van die spel geleer, Jean se manier om jou belang­riker te laat voel as net ’n speler in sy span . . . Juan Smith . . . André Venter en Chris Badenhorst, ag, én my pa op die plaas, én die ou helde soos Naas Botha en Ruben Kruger en al oom Frik du Preez se stories.”

Dit is hoekom Adriaan Strauss nie een van die 400 van ons land se topspelers is wat hul geld in pond of ­euro of jen verdien nie. Dis sy plek dié. En sy mense.

“Ek kry al van jongs af geleenthede om oorsee te speel, maar ek kry dit nooit oor my hart om te gaan nie.”

Elke keer as hy plaas toe ry, en Philippolis kom al hoe nader, dan kry hy weer daardie “goeie-ou-tye-gevoel”, sê Adriaan. Die gevoel van: dis huis dié, dis waar ek hoort.

Daar moes lang seisoene gewees het toe hy geweet het hy’s die beste haker in die land, maar hy’s nie gekies nie.

“Kyk, ek kan net só hard oefen en só hard speel. Ek kan nie myself kies nie, dis nie in my beheer nie, en ek aanvaar dit wat na my kant toe kom. Maar ek is baie kompeterend, ek sal altyd harder werk om daar uit te kom. Maar jou tyd is jou tyd. Ek moes ’n rukkie vasbyt om die kans te kry.”

Aanhouer het toe uiteindelik gewen.

Hy kuier op sy heel lekkerste saam met pêlle om ’n spitbraai (“skaap, ’seblief!”), en dis daar waar hulle hom “rêrig ondersteun” as dinge swaar gaan. Én, grinnik hy, hom vinnig aarde toe bring as hulle dink dis nodig.

“Nes ek dink ek’t rugby nou goed ­onder die knieg, dan wys hulle ’n paar swak plekke uit. Jy druk ’n drie, maar hulle sien die knock raak.”

En dan laat hulle hierdie wit reus sommer van voor af bloos, grap André Venter. “Vra hom net oor die dag toe die Argentyne sy goose gegryp het!”

Oor Adriaan se vasbyt kan André jou lank besig hou. “Toe hy geswot het vir sy Unisa-graad het hy Desembermaande, ná ’n harde rugbyseisoen en as al die kantore al toegemaak het vir Kersfees, daar by ons kom afpak, sy kantoordeur toegetrek en agter sy boeke ingeklim.”

Hy speel sy beste rugby as hy kaptein is, word van Adriaan gesê. As kaptein van die Cheetahs, was hy kook­water. By die Bulle was hy aanvanklik nie kaptein nie en sy spel het begin ­inkonk. Sedert hulle hom in 2016 ­kaptein gemaak het, is Atters weer ­atter-ly awsum.

So oor sy spelpeil, nou dat hy kaptein is met al die sosiale verpligtinge en mediadinge, stres dié blonde reus wat lyk asof hy uit Game of Thrones – of is dit Vikings– ontsnap het.

“Ek is eintlik baie rustig,” sê hy en blaas sy asem stadig uit. “Oeg, ek weet nie, ek dink dis maar my persoonlikheid en die feit dat ek weet ek doen wat ek kan – op én van die veld af. Die res, waaraan ek niks kan doen nie, moet gebeur en ontvou soos dit moet,” sê hy en die wegneemkoffie lyk speelgoedklein in daardie skrumhande.

Maar oukei, oukei, sy maag hét gedraai toe coach Allister hom seweuur daai oggend oor ’n koffie ingelig het hy’s die 57ste Springbokkaptein, erken hy seker vir die 40ste keer dié week.

“Wat ’n verantwoordelikheid. Ek sal my allerbeste daarvoor gee.”

Vir die seuns van Philippolis, die dorpie wat sowaar ’n Bokkaptein én Blitsbokkaptein in dieselfde jaar kon oplewer, waar hulle Saterdae rugby speel op klipharde velde, tone blou in die winterryp, is sy boodskap: “Droom groot en moenie dat iemand jou droom steel nie. Daar’s altyd mense wat sê jy kan dit nié doen nie, of jy moet dit ­ánders doen. Dis maklik om na hulle 
te luister en op te gee. “Moenie. Dis jou droom. Jáág hom. Ek het.”

Dan begin Atter lag vir homself, vir sy diep woorde so vroeg in die oggend.

“Eintlik is ek net bly want nou’t ek nog ’n kans om by die Bokke te wees.”